Thursday 16 February 2017

Natnuwe projek nou kurkdroog!









Die naelstring is nou geknip en hul almal is mooi weggewerk, en ek het al die toppie ingewei!  Gister het daar so 'n heerlike bui reen geval en toe die luggie koel raak het ek hom nader gesleep.  Was sommer baie in my skik, want die gedeelte tussen die blaaie is net mooi waar die koeligheid inkruip en dit het my net warm genoeg gemaak.







My 'model' is ook 'n idee wat ek op die internet gekry het, dis 'n ou geborduurde bloesie wat vir baie lank in die kas gelé en vergeel het, en toe trek ek die bloesie vir die kussing aan en dit het 'n lekker tweeledige doel.  Ek hou daarvan as iets meerdoelig kan wees.


Ons ou hondjie hou ook daarvan















Hierdie 'vest' se patroon is eintlik 'n kombers patroon wat ek op
Sophies Universe se webwerf gekry het
Jarta Jasmine Design
het dit in die "circular vest" omskep

Hierdie lappie is ook 'n ou projek, dit is gebrei met materiaal wat ek in stroke geknip het en manlief het vir my van 10mm 'dowls' breipenne gemaak, want ek het nie sulke dik breipenne gehad nie, hier op die plaas moet jy maar planne maak, mens kan nie sommer ry net om breipenne te koop nie.......

    
Op die oomblik is ek nog besig met die klein ronde wit karaktertjie, so saam met my selfopgelegte projek om vir die kinderhuis goedjies te brei en hekel vir die winter wat voorlé. Ek het darem al 'n serp, mussie en truitjie wat klaar is, die kombersie is nog in wording.

Oos-wes-tuis-bes groete
                        

Wednesday 15 February 2017

Seasons Quiet Book

Uiteindelik kan ek vir julle die stilboek wys waaraan ek nou al so lank werk :)
Ek het dit so geniet om die boek te maak en kan nie wag om met die volgende een te begin nie!!
Gaan na rchandgemaak.blogspot.com vir meer fotos en details
 
Groete
RC
 ♡ 

Wednesday 8 February 2017

Teemussie met 'n verskil

Hierdie teemus het my asem weggeslaan toe ek dit die eerste keer op Pinterest sien, toe ek op die webwerf gaan kyk is dit Russies!! Gelukkig was daar baie mooi fotos by en mens kan mooi uitwerk wat om te doen.  Die teemusse wat ek op die webwerf gesien het is verskriklik mooi en het baie detail.  Myne lyk maar vaal teen hulle s'n,  maar nogtans is ek baie in my skik met my resultaat.


Die paddastoele was baie lekker om te hekel, mens kan 'n hele feetjiebos maak met die paddastoele.
Die agterkant het nie so baie detail nie,  Die venstertjie was baie makliker om te hekel as wat ek aanvanklik gedink het.

Ek sal graag nog so 'n soort een wil hekel,  maar op die oomblik is my lysie bietjie lank.  Moet eers daardie nat nuwe projek van my klaarmaak, dit het nog sy naelstring aan hehehe   Maar dit moet klaarkom dat ek my volgende projek kan begin  -  dit is spierwit, met 'n lang neus, twee spits ore en 'n langerige stertjie en bly in 'n ronde blou huisie wat lyk soos 'n toring saam met sy familie.............

Monday 6 February 2017

Ietsie ouds en ietsie nat nuut


Dis omtrent 'n gewik en geweeg om te besluit wat ek eerste sal opsit!!  Maar is seker beste om by geskiedenis te begin hehe.  Hierdie troukoek het ek al 'n paar jaar gelede gehekel, dit was ook een van daardie patrone wat ek gesien het en dadelik besluit het om dit te begin. Dit is eintlik 'n sloop/oortreksel om jou ekstra borde toe te maak, dan is hul altyd byderhand om te gebruik en mooi skoon


                           



Ek sal graag eendag weer een wil hekel, want met al die 'gesurf' deur die jare,  het ek nog patrone gesien wat regtig soos koeke lyk, met gehekelde poppies van 'n bruid en bruidegom en met die mooiste gehekelde blomme en gehekelde kant wat soos versiersuiker lyk.  Sjoe mens kry darem talentvolle mense met al die idees en die vermoe om die patrone te kan uitwerk,  ek is net dankbaar hul sit dit op die internet dat ek dit ook kan sien hehehe xx

En hier is die nuutste bont affére waarmee ek op die oomblik besig is!




Dit is 'n "circular vest" wat omtrent halfpad gehekel is.  Dis maar eintlik 'n groot doily wat mens aantrek soos 'n moulose trui,  dit is ook ietsie wat ek al vir baie lank graag wou hekel.  Aangesien een van my nuwejaars(probleme)voorneme was om al die wol wat ek reeds het, eers op te gebruik voordat ek enige nuwe wol koop, was hierdie projek idiaal daarvoor.  Ek het op die ou end so baie idees gekry wat ek met die wol wat ek het wil maak dat dit dalk nie so lank gaan wees voordat ek vir my nuwe wol kan koop nie!!

Wag ek het nog ietsie ouds wat ek wil wys! 
Lekker om te weet die projek word elke dag geniet en vertroetel......... xxxxx  =)

Daar is nog heelwat argiefmateriaal wat ek gaan opsit in die toekoms......  Mooi bly!!






Saturday 4 February 2017

Vos Serp

Schnitz was so gaaf om vir my die serpie te modelleer :)
Is hy nie handsome nie?!?
Ek is mal oor hierdie prettige serp patroon.
Dink jul nie ook dat dit mens se dag sommer ophelder nie?

Lekker naweek vir almal!

Groete
RC
xxx